Ek lees vandag op Slashdot oor die rede vir die lengtebeperking op SMS'e van 160 karakters. Dit is 'n interessante storie, en relevant vir ons vandag, want dit is een van die redes dat ons selfoonlandskap lyk soos hy lyk. Ons tale het natuurlik nie ongedeerd hiervan afgekom nie.
Ons het onlangs begin werk aan 'n handleiding vir lokalisering in Noord-Sotho saam met Mosekola. Ons het op plekke in die handleiding probeer aandag gee aan sake wat spesifiek van toepassing is op selfone, soos bv. beperkings aan spasie. Nokia het al vir 'n rukkie selfone beskikbaar in 'n paar Suid-Afrikaanse tale. Dit is gewoonlik Zoeloe, Xhosa, Afrikaans en (Suid-) Sotho. Die eerste drie is die drie grootste tale van Suid-Afrika. Sotho is egter nommer 7. Die hoofrede vir hierdie keuse is waarskynlik dat Noord-Sotho die karakters "š" en "Š" gebruik, wat nie in die eenvoudige stel karakters vir SMS'e ingesluit is nie. Interessant genoeg ontbreek daar selfs 'n paar karakters vir Afrikaans in dié stel, bv. "ë". Ek weet sommige selfone hanteer wel hierdie karakters, maar ek is redelik seker dat "ýïû" bv. nêrens hanteer word nie, maar hoor graag as ek verkeerd is.
Daar is al ander planne gemaak vir 'n klomp tale, veral in die verre-ooste. Om een of ander rede kan my huidige selfoon Griekse letters tik. Briljante "strategie" van Samsung vir die Suid-Afrikaanse mark.
Dis jammer dat 'n klomp tale eenvoudig nie die markkrag en publieke stem het om beter tegnologie aan te vra nie. Sonder keuse sal gewone markkragte hierdie nie uitsorteer nie.