As ek die term "lokalisering" aan mense verduidelik, probeer ek altyd om aspekte te noem wat nié vertaling is nie. Aspekte soos datumformate en geldeenhede is maklike voorbeelde om te gebruik. Alhoewel speltoetsers algemeen bekend is, sien baie mense dit eerder as taaltegnologie, alhoewel dit natuurlik deel is daarvan om 'n rekenaarstelsel aan te pas by die gebruikers. Daar is egter nog meer aspekte, met 'n paar mooi voorbeelde in die wêreld van Vry Sagteware.
As mens 'n Linux-verspreiding installeer in Sjinees, sal die stelsel die toevoermetodes installeer wat dit moontlik maak om Sjinees te tik. Dit behels spesifieke sagteware asook "woordeboeke" wat nodig is vir die toevoermetodes. Spesifieke lettertipes sal ook geïnstalleer word wat dalk nie andersins geïnstalleer word nie, veral weens die grootte (goeie Sjinese lettertipes neem heelwat hardeskyfplek op). In Firefox is daar die moontlikheid om spesiale soekenjins vir 'n taal te spesifiseer. GCompris het klanklêers wat apart vir elke taal gedoen kan word (wie wil my nog help met die Afrikaans?).
'n Ander aspek waarvan mens normaalweg heeltemal onbewus is, is papiergroottes. Hiermee verwys ek nou nie na A4 teenoor A3 nie, maar die hele A-stelsel (deel van ISO 216) teenoor die Amerikaanse stelsel van papiergroottes ("Letter", "Legal", ens.). Ek raai meeste Suid-Afrikaners het nog nooit eens 'n vel van "Letter"-grootte gesien nie. Ek weet nie eens of mens dit enige plek sal kan koop nie. Hoe ookal - ons gebruik A4.
Hierdie formate het verskillende groottes, en rekenaarprogramme moet dit weet om die bladuitleg korrek te kan doen. Meestal hoef mens eenvoudig nie hieroor te bekommer nie. Dwayne het al jare gelede al die Suid-Afrikaanse tale se lokaliteitslêers geskep vir Linux en OpenOffice.org wat spesifiseer dat ons in Suid-Afrika A4 gebruik. Op Windows werk dit anders - dit word per drukker opgestel. Mens kan natuurlik altyd weer aan hierdie goeters stel, net soos ander instellings van die drukker.
Dit was dus 'n verassing toe ons onlangs agterkom dat Firefox nie op Linux die lokaliteitdata gehoorsaam nie, en altyd "Letter" as die bladsygrootte gebruik, selfs vir die Afrikaanse weergawe. Mens kan in Firefox by about:config die waarde "print.postscript.paper_size" stel na "A4". Ek wou hierdie verandering vir die Afrikaanse weergawe invoeg deur 'n verandering in die lêer firefox-l10n.js te voeg en hierdie instelling deur JavaScript reg te maak met:
pref("print.postscript.paper_size", "A4");
Ek is egter afgeraai op weens tegniese en administratiewe redes. Dit sou natuurlik nie die korrekte oplossing wees nie (die sagteware moet die instelling van die lokaliteitdata kry), maar ek wou dit graag regmaak vir die Afrikaanse gebruikers van Firefox. Hopelik kan hierdie op 'n stadium aandag kry. Moontlik relevante foute by Mozilla:
Dankie aan Fabrice Facorat vir die skakels na die ekstra foutverslae.
Dit is nogal jammer om hierdie te sien as mens in ag neem dat die Amerikaanse stelsel omtrent uitsluitlik in Noord-Amerika gebruik word.