Ek't vandag bietjie geloer na Google se Zeitgeist (tydgees) vir 2008 wat 'n aanduiding gee van watter soektogte gewild is in watter lande. Dit was vir my interessant om op te let watter lande heelwat Engelse soektogte het al is Engels nie 'n groot inheemse taal nie.
Meeste lande se inskrywings word oorheers deur die name in Latynse skrif van 'n paar gewilde werwe: Youtube, Facebook, Google, Hotmail, ens. Die groot uitsonderings wat ek hier sien is Rusland en Korea, waar die gewilde soekresultate amper uitsluitlik in die plaaslike skrif (onderskeidelik Cyrillies en Koreaans) is. Vir Sjina is die gewildste soektogte steeds almal in Latynse skrif, maar al die opkomende soektogte is in Sjinees.
Gebrekkige ondersteuning vir 'n taal behoort te manifesteer in die Zeitgeist deur gewilde soektogte wat eerder in bv. Engels of Frans sal wees. Ons kan bv. sien dat al die inskrywings op die lys vir Indië in Latynse skrif is. Die onderlinge kompetisie tussen die inheemse tale kan natuurlik ook die dominansie van Engels vergroot.
Beperkte geletterheid in 'n tweede taal behoort te manifesteer deur min soektogte in Latynse skrif. Hierdie sien ons bv. vir Thailand. Dit het my effens verras, omdat ek die indruk gekry het dat die skrif vir Thai nog nie vir lank goed ondersteun word in tegnologie nie. Thai word geskryf met 44 konsonante en 15 vokale, en benodig tegnologie vir komplekse teksuitleg op rekenaars (d.w.s. die karakters word nie bloot langs mekaar ingeryg soos die Latynse skrif nie).
Wat Suid-Afrika betref is daar nie veel wat interessant lyk op taalgebied nie. Beeld het in gewildheid toegeneem in 2008.
Comments
Post new comment