Die Translate-projek werk die afgelope jaar hard aan die komende vrystelling van Pootle, en dinge lyk voor die wind vir die komende vrystelling. Ons het onlangs beta-4 vrygestel, en dinge staan nou al naby aan vrystellingskwaliteit. Geluk aan Alaa en Wynand wat meeste van die werk gedoen het. Ons het ook bydraes gehad van verskeie ander maantskappye en individue. Daar is verskeie verbeterings sedert weergawe 1.2, maar ek wou spesifiek skryf oor die verbeterings aan die gebruikerkoppelvlak wat vertalers en lokaliseringsbestuurders gaan geniet.
Ja, die gerug is waar: ons is ontslae van die Pootle-gelukbringertjie (ook bekend aan sommige as die aartappelman). Hy het ons lojaal gedien vir 'n paar jare, maar ons groet hom graag vaarwel soos ons totsiens sê vir Pootle en die dae van die ou Pootle.

Om die waarheid te sê, die hele voorkoms is nuut. Koekeloer gerus by ons toetsbediener. Baie mense se werk het hierdie moontlik gemaak, insluitend mense van Mozilla, Manal Hassan en Julen Ruiz Aizpuru. Om die waarheid te sê, Julen he tnou die mees aktiewe bydraer tot die koppelvlak geword. Ek dink dit lyk mooier en meer modern, en bied die funksionaliteit baie beter aan.
Die voorblad het nou heelwat meer inligting. Dit gee 'n volledige oorsig oor aktiwiteite op die bediener. Hierdie was die idee van bydraers by Mozilla. Dit bied ook 'n opsomming van die topbydraers op die bediener, en soortgelyke opsommings vertoon op verskeie subbladsye van die bediener.
Administrateurs gaan veel meer van die opstelling deur die webkoppelvlak kan doen. Vantevore was dele van die opstelling net moontlik in die konfigurasielêers. Dit gaan nou ook makliker wees om sommige van die adminbladsye te kry vanaf die projekte waarop hulle van toepassing is.
'n Verbetering waaroor ek baie opgewonde is, is die beter organisasie van die aktiwiteite in 'n projek. Pootle se kwaliteittoetse is bemin deur al sy gebruikers, maar dit was nog altyd bietjie verborge. Dinge word nou verdeel op 'n manier wat meer sin maak vir die gebruikers.
Hierdie belowe als 'n baie opwindende vrystelling vir Pootle. Sluit nou by ons aan in die pylvak om die laaste dinge te laat gebeur.
Comments
Post new comment