Ek lees gister van Panopticlick wat probeer bepaal hoe maklik webgebruikers nagespeur kan word sonder webkoekies. Dit versamel inligting wat deur die blaaier gestuur word in die HTTP-protokol, en dinge wat d.m.v. JavaScript, Flash en Java bekombaar is. Dit blyk toe dat my webblaaier uniek is in die poel van blaaiers wat Panopticlick besoek het.
Wat interessant/kommerwekkend is, is dat meeste van die velde op hulle eie my uniek kan identifiseer. Niemand anders gebruik dieselfde taalkombinasie vir HTTP se Accept-Lang nie (die lys van tale wat ek verkies). Niemand gebruik die selfde weergawe van Firefox in Afrikaans op my Linux-verspreiding nie.
Ek gaan nie hier uitbrei oor hoekom hierdie goed of sleg is nie, maar dit is interessant om te weet dat as ek rede gehad het om nié geïdentifiseer te wil word nie, ek nie meer Firefox in Afrikaans mag gebruik nie, en ek ook nie meer my voorkeurtaal vir webwerwe mag aandui nie. Ek besef dat inproppe seker die saak kan verbeter, maar as hierdie as 'n gevaar gesien word, is dit seker 'n gevaar vir meer mense as wat sal weet van NoScript of TorButton.
Moet ons dalk nuwer dink oor hoeveel inligting by verstek gestuur word deur webblaaiers? Ten minste voel ek nou bietjie meer spesiaal...