Aangesien ek 'n lekker vakansie verdien het, het ek die twyfelagtige voorreg gehad om 'n vliegtuigkaartjie Kaap toe te moet koop. Dis nou nie iets waaroor mens normaalweg op 'n joernaal sou skryf nie, maar my ervaring by Mango het onverwags relevant geword vir die onderwerpe van hierdie joernaal. Lees gerus verder om te sien hoe ek die murg uit die bene stamp.
As dit kom by die koop van vliegtuigkaartjies, is prys seker maar een van die belangrikste oorwegings. Ek is (ten minste op hierdie stadium) nog nie lojaal aan enige redery nie. Ek het dus 'n paar pryse vergelyk en nadat ek bietjie te lank uitgestel het, het Mango die beste aanbod gehad (Kulula was vroeër die week nog bietjie goedkoper). Voort dus tot die bespreking van die kaartjie - hier begin die frustrasie.
By Mango is verskeie betaalmodusse moontlik - onder andere debietkaart. Hiervoor is Internet Explorer egter nodig. Kredietkaartbetaling is blykbaar moontlik met Firefox. By die velde vir naam en van spesifiseer dit spesifiek dat dit moet wees soos dit verskyn op die kredietkaart.
In my geval verskyn my voornaam bloot as "F". Dít word egter nie toegelaat deur die werf nie, en ek kry 'n rooi boodskap "No special characters allowed in the text box" (let op die swak uitleg in Firefox op die koop toe). Nou dis mos nou interessant vir my. "F" is natuurlik g'n spesiale karakter nie, en blykbaar is die saak dat 'n enkelletter nie in die voornaamveld toegelaat word nie. Nou hoekom die naam en van apart gespesifiseer moet word, kan ek nie dink nie. As een veld sou dit reeds 'n paar internasionaliseringsprobleme oplos (dis buitendien hoe dit op die kaart verskyn).
Maar van groter belang is die klaarblyklike feit dat bloot ASCII-karakters toegelaat word. Nou hoe nou gemaak as my naam "Riët" was? Moet ek nou voorgee dat my naam "Riet" is? Kan mens enige nie-ASCII-karakters op mens se kredietkaart hê by enige Suid-Afrikaanse bank? Ek is onder geen illusie dat baie (dalk meeste) diensverskaffers in Suid-Afrika geen ondersteuning buite ASCII aanbied nie. Deel van my woonadres bevat die karakter "é" en ek het al probleme daarmee gesien (afgesien dat niemand dit kan/wil tik nie).
Afgesien van die etiese dilemma om óf te jok oor wat op die kaart staan, óf om te probeer om die storie te omseil, het my sessie uitgetel terwyl ek besig was om die voorwaardes deur te lees. Op daardie punt het hulle my klandisie verloor, en is ek na 'n ander redery (waar die prys toevallig weer teruggeval het na láer as by Mango). By 'n volgende geleentheid sal ek skryf oor my ervaring wat lokalisering betref by die redery waar ek toe tog my bokke spandeer het.
Comments
Binnelandse sake kan ook nie
Sowat twee jaar gelede was ek nogal verbaas en teleurgesteld om te sien dat Binnelandse Sake my wyle oupa sa naam "Daniël" nie op 'n sterftesertifikaat kan plaas nie. Die Ë is wel iewers in die databasis maar dit kom op die drukker uit as die Russiese Ц. Ek dink dit is aaklig maar niemand daar gee om nie. Terloops, die kort film "Andre met strepie" (ek weet waar jy dié film kan bekom) handel ook hieroor en is nogal goed!
Dis blykbaar nie net ek wat so dink nie
Dit was interessant toe ek pas hierdie gekry het: http://jonstwist.wordpress.com/2006/11/01/vrot-mango-rotten-mango/
Dit laat 'n mens wonder...
Stop wining go enjoy your holiday
It might seems that Friedel is complaining about localisation issues on credit cards and Mango booking. The real reason is that the whole office had to drag him kicking and screaming to the computer, offer to buy the ticket for him, beg, plead, demand, you get the picture. So when he gets to the booking it is obvious that his manhood needs to find some excuse not to book, but we where all leaning over his shoulder, so the force of will won. So now you understand that this blog is actually to win some of that pride back!
Go have a holiday Friedel. And don't make all your decisions purely on cost, we want you back in one piece and we already are missing you in the office.
Post new comment