Ek het nou hier en daar gesien dat mense skryf oor OSX 10.6 (Snow Leopard) wat nou (addisioneel) van Hunspell gebruik maak vir die stelselwye speltoetser. As dit die waarheid is, steek Apple dit baie goed weg — 'n soektog vir "Hunspell" op hulle webwerf lewer skaars iets op. Dit is wel interessant dat OSX van Hunspell gebruik maak, en dat OSX voor GNOME 'n stelselwye speltoetser het wat gebaseer is op Hunspell.
'n Paar mense het met sukses Hunspell-woordeboeke in OSX 10.6 geïnstalleer. Hierdie webwerf met speltoetsers vir Sami het die mooiste opsomming. 'n Stelselwye speltoetser gekombineer met taalherkenning is regtig oulik. Dit is jammer dat sulke nuttige taaltegnologie nog nie so algemeen is in die wêreld van Vry Sagteware nie. Programme waarvan ek weet wat taalherkenning doen, sluit in OpenOffice.org en Virtaal.
Dit klink asof die internasionalisering van hierdie funksies op OSX nog ruimte het vir verbetering — daar word nog slegs enkele drieletterkodes ondersteun, en slegs een speltoetstaal vir alle dokumente in een program is moontlik op die oomblik. Min programme wat ek al gesien het maak dit werklik maklik en aangenaam om in 'n verskeidenheid tale te werk. As ek dit dus reg verstaan - slegs een taal op 'n slag vir alle oortjies in Safari, byvoorbeeld.
In die wêreld van Vry Sagteware het ons iets beters as blote Hunspell — Enchant. Sal GNOME 3.0 'n geïntegreerde speldiens gebaseer op Enchant kan hê?
Comments
Post new comment