|
Hoekom dring almal aan op taalname met voorvoegsels? |
Baie mense dring aan daarop dat die taalname van die amptelike tale van Suid-Afrika geskryf word met die vorm wat deur die sprekers van die taal self gebruik word. Dan is daar natuurlik dié daarteen.
Daar is 'n aantal redes wat deur mense aangevoer word vír en téén die gebruik van die taalname se eie vorms: Daarvoor - Dit is eiename en, net soos wat eiename nie verander sal word nie, behoort taalname nie verander te word van die manier hoe 'n moedertaalspreker dit sou gebruik nie.
- Hierdie tale is afgeskuif tot tweedeklastale en een manier om hulle op die voorgrond te plaas is as almal erkenning aan die tale gee deur hulle eie vorms te gebruik
- Die voorvoegsels onderskei die taal van die mense: isiXhosa teenoor amaXhosa
- 'n Lys van taalname werk beter met eie vorme as dit bedoel word as 'n gids vir moedertaalsprekers om inhoud of hulp in hulle eie taal te vind.
- Dit is hoe dit in die grondwet aangegee word.
Daarteen - In Afrikaans sê mens nie "My moedertaal is Deutch." nie, maar "My moedertaal is Duits." Die Afrikaanse taalnaam word dus gebruik.
- Afrikaans benodig nie voorvoegsels om tale en mense te onderskei nie. Die konteks is genoeg vir 'n luisteraar om die verskil te verstaan.
- Tale wat deurgaans voorvoegsels gebruik, gebruik nie self ander tale se eie vorms nie. In Xhosa sê mens "Ndithetha isiNgesi" nie "Ndithetha English" nie. Dieselfde geld in alle Suid-Afrikaanse tale wanneer na ander Suid-Afrikaanse tale verwys word. Sotho-tale volg bv. nie die Nguni-reëls nie.
- Vertalings van die grondwet vanuit Engels in die ander amptelike tale gebruik nie die eie taalname soos die Engels nie, maar gebruik die voorvoegsels van die doeltaal waarin vertaal word. Met ander woorde, nie eens die tale wat aandring op voorvoegsels respekteer die die skryfstyl van die ander tale nie.
Wat is Translate.org.za se standpunt? Ons glo in die ontwikkeling van Afrikatale. As voorvoegsels mense bewus maak van ons veeltalige land, is dit prysenswaardig. Ons probeer om die tale se eie vorme te gebruik by lyste van taalname waaruit gebruikers moet kies. Ons verwerp die idee dat dit die regte manier is om taalname te skryf, aangesien dit duidelik verkeerd is in alle tale van Suid-Afrika. In geskrewe kommunikasie verkies ons die vorm van die kommunikasietaal wat gladde geskrewe kommunikasie verseker. In voorleggings en besprekings gebruik ons die vorms ruilbaar. |