| Wanneer stel julle speltoetsers vry vir Microsoft Office? |
|
Ons speltoetsers werk in die OpenOffice.org-kantoorsuite en in die Firefox-webblaaier en Thunderbird-e-poskliënt. Hulle werk nie op die oomblik in Microsoft Office of verwante Microsoft-produkte wat gebruik maak van die MS Office-speltoetsenjin nie. Hoekom maak ons nie een nie? Wel, daar is 'n paar redes. Amper almal is tegnies van aard. Daar is 'n sterk begeerte onder die Translate.org.za-gemeenskap om ons oopbronspeltoetsers aan te pas vir Microsoft-produkte. Op 'n sekere manier het hierdie reeds gebeur. Die enchant-speltoetsenjin laat ons speltoetsers loop op die Microsoft-platform. Die aspell-speltoetser is ook beskikbaar vir Windows. Die probleem om ons speltoetsers met Microsoft Office te laat werk, is dat 'n speltoetsenjin ontwikkel moet word in ooreenstemming met wat Microsoft die CSAPI noem (Common Spell Checker API). Ongelukkig behels hierdie die ondertekening van 'n nieopenbarmakingsooreenkoms. Selfs na vele navrae kon Translate.org.za nie 'n afskrif van die ooreenkoms in die hande kry om 'n besluit te maak oor of ons wettiglik die werk kan onderneem nie. Selfs vóór die tegniese werk ondersoek kan word, word ons gekniehalter deur die wetlike vereistes. Dit het 'n groot klomp tyd geverg om die moontlikheid te ondersoek om CSAPI te implementeer. Op die oomblik wil ons eerder sulke tyd gebruik om ons bestaande speltoetsers te verbeter. As u 'n baie goeie Windows-programmeerder is en kans sien vir die uitdaging, kontak ons gerus en help ons om ons speltoetsers met die CSAPI te laat werk. Meer mense sal gehelp word as bloot dié wat Suid-Afrikaanse tale praat. |
| < Vorige |
|---|


