Tuis arrow Vrae arrow Speltoetsers arrow Wat van speltoetsers vir die Afrikatale?
Wat van speltoetsers vir die Afrikatale?
Translate.org.za het speltoetsers vir Afrikaans en Suid-Afrikaanse Engels. Ons het ook toetsers in al die ander amptelike tale, maar ons bevorder hulle nie aktief nie aangesien ons nog nie voel dat hulle op 'n standaard is vir wye gebruik nie.

Download Now Laai speltoetsers af

U vra dalk hoekom die ander Afrikatale se toetsers nie so goed ontwikkel is as bv. die Afrikaanse ene nie. Sweer ons saam om die ander tale te onderdruk? Nee, beslis nie!

Die rede hoekom ons nie baie goeie toetsers het vir al die tale nie, is bloot omdat dit moeilik is om met huidige tegnologie 'n toetser te maak vir tale in bv. die Nguni-groep (Ndebele, Zoeloe, Xhosa en Swazi).  Die rede is dat die geskrewe taal hoogs konjunktief is. Dit wil sê dat verskeie woorddele aanmekaar geskryf word. Die huidige speltoetsers is meer gebaseer op woordelyste: as die woord in die lys is, is dit geld, andersins is dit 'n spelfout. Maar aangesien daar in die Nguni-tale soveel permutasies is, word dit onmoontlik om 'n volledige woordelys te skep.

Om 'n goeie Nguni-toetser te maak, benodig mens 'n eenvoudige morfologiese analiseerder - iets wat verstaan hoe die taal aanmekaargeskrewe woorde bou. As dit dan in plek is, kan 'n speltoetser bepaal of dit reg saamgestel is uit die verskeie woorddele. Daar is geen vrye / gratis implementasie van 'n Nguni-morfologiese enjin nie. Dit lyk asof huidige werk in hierdie area geslote sal bly wat ongelukkig ons tale terughou. Ons hoop om deur samewerking in die toekoms 'n oop morfologiese enjin te skep wat alle tale in die Bantoegroep kan help.
 
Vir die ander Suid-Afrikaanse tale, die Sotho-groep, Venda en Tsonga en Afrikaans, is daar nie so 'n groot probleem met morfologie nie. In Afrikaans word woorde wel ook vasgeskryf om nuwe "woorde" te vorm, maar in werklikheid werk die woordelysgebaseerde toetser heel bevredigend. Morfologiese analise sou bloot ekstra waarde byvoeg in die toets van samestellings en in die voorstelle by spelfoute.
 
Die probleem met al die tale is die beskikbaarheid en die ontwikkeling van lyste van geldige woorde. Hierdie neem tyd om te versamel. Die Afrikaanse lys is gebaseer op werk van die jare 80 en 90. Ons het onlangs begin met versameling vir die ander en daar lê 'n baie lang pad voor. U kan bydra deur u woorde en verbeterings by te dra vir insluiting in hierdie lyste.
 
Alhoewel ons ons speltoetsers op ons werf publiseer, het ons hulle gegradeer sodat ons nie 'n verkeerde indruk skep oor hulle bruikbaarheid nie. Ons wil egter hê mense moet dit gebruik en steek hulle dus nie weg nie.
 
< Vorige   Volgende >