Tuis arrow Vrae arrow Taal arrow Noord-Sotho of Pedi?
Noord-Sotho of Pedi?

U het dalk al gehoor van 'n taal met die naam Noord-Sotho. Om die waarheid te sê, dalk het u gehoor dat dit Pedi genoem word deur baie mense wat sê hulle praat Noord-Sotho.

Deurmekaar?  Wel, miskien nie so deurmekaar en gefrustreerd soos al die mense wat Noord-Sotho praat maar nie Pedi praat nie.  En u is nie alleen nie: selfs die Suid-Afrikaanse grondwet is deurmekaar!

U vra dalk hoe een taal dan soveel name het. En dít is die werklike probleem: dit is nie een taal nie.  Noord-Sotho probeer sowat 30 dialekte te omvat. Dink daaraan as die beursie wat 'n aantal goue munte saamhou. Die dominante dialek is Pedi, die taal gepraat deur die Pedi's (Bapedi), maar dit is nie die enigste taal van Noord-Sotho nie.

In die tussentydse grondwet van 1993 is daar korrek na die taal verwys as Noord-Sotho, maar in die finale grondwet van 1996 is dit verander na Pedi, wat in der waarheid verkeerd is soos wat vroeër aangedui is.  Ons moet nog uitvind hoekom hierdie toe wel verander is.  Was dit 'n verwarde komitee sonder taalkundige inset, of was dit 'n Pedi-spreker wat hulle eie saak probeer bevorder met verwarring oor hulle eie taal?  Wat die oorsaak ook al was, die verwarring wat geskep is gaan teen die gees van die grondwet wat die bevordering van gemarginaliseerde Afrikatale aanmoedig deur self 'n situasie van marginalisasie te skep.  Die dialekte van Noord-Sotho is gemarginaliseer en uitgesluit.

Ons het nog nie genoem dat Noord-Sotho-sprekers aanstoot neem as mens hulle Pedi-sprekers noem nie - hulle praat nie Pedi nie.

Die verwarring loop self dieper: staatsinstellings is nou ook deurmekaar met PanSAT wat Noord-Sotho bevorder terwyl Nasionale Taaldienste van Pedi praat.

Die kern van die saak is dat Noord-Sotho die regte naam is van die moedertaal wat die grondwet wou bemagtig.  Pedi is bloot 'n dialek van Noord-Sotho en verteenwoordig nie die ganse Noord-Sotho-sprekersgroep nie. In Noord-Sotho word dié tale onderskeidelik Sesotho sa Leboa en Sepedi genoem.

By Translate.org.za was ons vroeër inkonsekwent, maar nou gebruik ons slegs die term Noord-Sotho wat in lyn is met die tussentydse grondwet en met PanSAT, die organisasie wat tale moet bevorder en taalregte moet beskerm.  Ons werk hard om nou die term Pedi te vermy.

Daar is 'n ontluikende poging, waarvan Translate.org.za deel is, wat poog om die benoeming van Pedi teenoor Noord-Sotho aan te spreek. As u, soos ons, sterk hieroor voel, sluit gerus by die poging aan.

 

 
Volgende >