KAMBODJANE IN DIE KRUGER
“Ons
weet dit is moontlik om hierdie tipe werk te doen sonder om te
ontmoet ~ ons het dit tot nou toe gedoen, maar dit was wonderlik om
gesigte by name te kon sit ~ en ook te hoor hoe dit rêrig
uitgespreek moet word,” sê Friedel Wolff, Translate.org.za se
Wordforge-programmeerder, nadat twee jong Kambodjane Suid-Afrika in
Februarie besoek het. Hok Kakada en San Titvirak, albei Kambodjane in
hulle vroeë twintigs, het 'n week in Witrivier, Mpumalanga
deurgebring. Hulle het kamp opgeslaan by die ACTS MIV/Vigs-kliniek en
'n smakie van Suid-Afrika gekry, insluitend 'n bona fide
Suid-Afrikaanse braai. Translate.org.za en KhmerOS implementeer die
Wordforge-projek wat Oopbron-instrumente vir lokalisering skep wat
gekoppelde en ongekoppelde vertaling moontlik maak. Tot nou toe was
dit 'n virtuele vennootskap, maar hierdie was 'n goeie geleentheid
vir die spanne van Kambodja en Suid-Afrika om te ontmoet, mekaar te
leer ken, opleiding oor vertaalprojekte van Dwayne te kry,
gesamentlike projekte te kodeer en gemeenskaplike areas van
programmering te deel. Uitspan naby die beroemde Kruger Nasionale
Park het na ’n goeie idee geklink en die span is daarheen met die
hoop om die Groot Vyf te sien, maar ook om die geselskap te geniet,
weg van die stad. “Alhoewel ons nie al Vyf gesien het nie, was die
sosiale uitruiling baie aangenaam,” sê Friedel, “asook om
meer te leer van die Kambodjaanse kultuur. Hulle het ons (redelik
onsuksesvol) gewys hoe om die Khmer-skrif te lees, wat glad nie te
eenvoudig is nie.”
CNN BESOEK TRANSLATE.ORG.ZA
Femi
Oke, vervaardiger en aanbieder van CNN se Inside Africa, het
by ons skakelbeampte, Janet Sebastian, aangesluit vir 'n dag in
Pretoria op besoek aan vertalers, eindgebruikers en die
Translate.org.za-span. Janet en Femi het eerste by die UNISA-kantore
langs gegaan waar Kholisa Phodile, een van Translate.org.za se
vertalers en 'n dosent aan die universiteit, haar passie vir
moedertaalaktivisme gedeel het en gesels het oor die rede waarom sy
so verbind is tot vertaalprojekte en oor die belangrikheid daarvan
dat mense hulle eerste taal leer. Femi kon sien hoe Kholisa se
werkskerm lyk en het 'n kamera-onderhoud met haar gevoer. Daarna was
hulle by Hettie Dreyer, 'n Afrikaanse eindgebruiker wat
Translate.org.za se lof besing en baie beïndruk is dat sy
boekhou in haar huistaal kan doen. Femi het by die kantoor onderhoude
gevoer met die Translate.org.za-span en die dag is afgesluit met 'n
aand vol gelag en pizza eet saam met vertalers, gebruikers en
werknemers. “Om al hierdie mense om die tafel te sien – alle
kleure, verskillende kulture, verskillende tale was vir my die
hoogtepunt van die hele dag,” sê Janet. Ons weet nie wanneer
die CNN-uitsending is nie, maar sal mense in kennis stel sodra ons
weet.
ONS VERHOUDINGS VAN NADERBY BESKOU ... Mandy Njobe
Mandy
Njobe is 'n pionier in haar eie gebied. “Ek was die eerste swart
werknemer by die IT-departement van Technikon Natal,” sê
Mandy, “Ek het hard gewerk om my mikpunt te bereik.” Vandag is sy
'n voltydse dosent by die IT-departement van die Durbanse
Universiteit vir Tegnologie en een van Translate.org.za se
lewendigste vennote. Sy het translate@thons by die
universiteit georganiseer waar jong mense van alle tale betrek word
om onder andere sagteware te vertaal. Ons het haar 'n paar vrae
gevra. Vertel
ons bietjie van jouself
Ek is
in ‘n klein plattelandse plaasgebied van Umzimkuku in Transkei
gebore. Ons het heelwat rondgetrek ~ van Kroemhook tot Rietvlei, waar
ek meeste van my studiejare deurgebring het. Ek het later na Mount
Free getrek waar ek gematrikuleer het, en het uiteindelik via
Pietermaritzburg in Durban geëindig, waar ek tans woon. Ek het
uitstekende geleenthede gehad om by die Technikon Natal te studeer en
is ook 'n beurs aangebied deur die Universiteit van Westminster in
Londen. Ek het dit van die hand gewys aangesien ek toe pas aanvaar is
vir 'n voltydse doseerpos by die destydse Durbanse Instituut vir
Tegnologie. My kinderdae was maar wisselvallig met my ouers se
egskeiding toe ek nog jonk was. Ons het baie arm groot geword, ons
het almal in 'n eenkamerpondokkie gewoon. Ons moes almal baie hard
werk om studiebeurse te kry en my ma het terselfdertyd onderwys
studeer. Dit was nie 'n maklike tyd nie, maar vandag het ons almal
lewendige loopbane. Ek het een pragtige dogter van my oorlede man,
Gazu.
Wat is
jou stokperdjies?
Ek
luister graag na verskeie tipes musiek, maar geniet geestelike
liedjies die meeste. Ek is 'n baie nuuskierige persoon en bring baie
tyd deur op die internet op soek na die nuutste tegnologie en
navorsing. Dit het vir my soos 'n stokperdjie geword.
Hoe het
jy betrokke geraak by Translate.org.za?
Aanvanklik
was ek bekommerd oor hoe voorheen benadeelde studente vaar in 'n
rekenaargeletterheidsklas, wat my herinner het aan my eie stryd deur
my IT-diploma. Meeste van hierdie studente het nie rekenaars by die
huis nie en ek het hard gaan dink oor hoe ek hierdie studente met
hulle leerwerk kan help. Een ding wat duidelik na vore gekom het was
dat Engels 'n struikelblok was met die bemeestering van rekenaars.
Baie studies het bewys dat studente met Engels as tweede taal dit
moeilik vind om in hulle tweede taal te leer. Ek het die web deursoek
en raai wat vind ek toe ... TRANSLATE.ORG.ZA!
Wat het
jou opgewonde gemaak?
Ek is
diep geroer deur die feit dat mede Suid-Afrikaners iets dóén
aan die probleem. Ek het vir myself gesê ek moet met hierdie
organisasie in verbinding tree en kyk of ons saam iets kan doen om
hierdie studente te help. Dwayne was wonderlik ~ hy het met oorgawe
alles gegee wat ek nodig gehad het om my studente te help. Hy het met
die idee te voorskyn gekom van translate@thons by die
instelling, wat nogal 'n ondervinding vir ons almal was. Selfs vandag
nog deel ek hierdie sagteware uit sonder ophou, omdat ek glo ek moet
so veel studente as moontlik bereik.
Hoekom
het jy betrokke geraak?
Ek glo
elke persoon verdien 'n regverdige kans in onderwys. Mense moenie
ontmoedig word om tegnologie te ontdek net omdat daar geen manier is
om daarby uit te kom nie. Hulle moet ook nie geforseer word om iets
te gebruik waarmee hulle nie gemaklik voel nie, net omdat hulle geen
keuse het nie. Mense soos ek het reeds 'n paar tree vorentoe gegee
... nou moet ons terugkyk om te sien hoe ons dié agter ons kan
help. Sover dit taal aangaan, sal ek enigiets doen om inheemse tale
te beskerm en die gebruik daarvan te bevorder.
Hoekom
soveel energie aan vertalings wy?
Ek
doen dit vir myself, vir my gemeenskap en bowenal, sodat die regering
die potensiaal in ons kan sien; dat alhoewel die tegnologie nie deur
ons ontwikkel is nie, kan ons dit aanpas en beter maak vir die mense
van hierdie land. Tegnologie is almal oor die wêreld se brood
en in 'n ware Suid-Afrika geld dit ook vir voorheen benadeeldes.
PADKOS ~ Aanhaling van die maand
“Jare
se navorsing het getoon dat kinders wat hulle opleiding in hulle
moedertaal begin, met 'n voorsprong begin en volhou om beter te
presteer as diegene vir wie skool met 'n nuwe taal begin. Dieselfde
geld vir volwassenes wat geletterdheid probeer verwerf. Hierdie
gevolgtrekking word nou algemeen geïmplementeer.” John
Daniels, Assistent-direkteur-generaal vir Onderwys, UNESCO.
|