Op soek na personeel
Ja! As deel van opwindende projekte wat vir ons voorlê, adverteer ons nou vir programmeerders om by ons span aan te sluit om ons vertaalprogramme en taalverwante tegnologie uit te brei. Ons is op soek na gekwalifiseerde programmeerders met belangstelling in taalverwante tegnologie, verkieslik met ondervinding in Python (alhoewel ondervinding in enige objekgeoriënteerde taal goed sal wees). Hierdie is 'n voltydse pos gebaseer in Pretoria. Ondervinding met Vry- en Oopbronsagteware, weergawebeheerstelsels, taal / vertaling kan 'n kandidaat laat uitstyg bo ander aansoekers. Geïntereseerdes kan die volgende stuur per e-pos aan
Hierdie e-posadres word beskerm van strooiposbotte, en jy kort dus Javascript om dit te bekyk
of per faks na (012) 460-1095:
- U CV
- Afskrifte van u akademiese uitslae
- Detail van programmeringsprojekte waarin u betrokke was en u rol in hierdie projekte. Verskaf verkieslik kode wat u geskryf het of verwysings daarna.
- 'n Paragraaf oor hoekom u dink dat sagtewarelokalisering belangrik is.
Dictory
Ons het vroeër ons Dictory-projek aangekondig vir die versameling en bewaring van woordeboeke. Tot dusver het ons wonderlike terugvoer gehad (kilogramme se woordeboeke), en ons wil graag almal bedank wat woordeboeke geskenk het of die woord versprei het. Ons hoop dat meer mense woordeboeke nog sal kan bydra tot almal se voordeel. Ons het ons visiere gestel op vyf woordeboeke, en nou het ons omtrent al 30 Afrikaanse woordeboeke. Ons is werklik steeds op die uitkyk vir woordeboeke en terminologielyste in ander Afrikatale – selfs vertalers se eie tuisgemaakte terminologielyste sal hoog op prys gestel word.
Thunderbird in Afrikaans
Na harde werk kon ons onlangs die amptelike vrystelling van Thunderbird in Afrikaans te weeg bring. Dit beteken dat die vertaling nou amptelik beskikbaar is by die projekwerf, nie net van ons af nie. Ons hoop om binnekort 'n ordentlike mediaverklaring te doen, maar wou hierdie nuus met ons entoesiastiese ondersteuners deel. Ons bedank al die vrywilligers wat gehelp met die vertaal- en toetswerk. Te same met Firefox in Afrikaans en die speltoetser-byvoeging wat in altwee programme werk, verskaf hierdie twee Mozilla-produkte wonderlike, ryk ervaring vir Afrikaanse gebruikers. Baie mense is aangenaam verras as hulle besef dat hulle 'n vertaalde webblaaier en e-posprogram kan hê, én nog hulle spelling kan nagaan in webvorms en in e-pos! Ons wil definitief meer vrywilligers lok om ons met al ons tale by te staan. Onthou dat die toekoms van u taal in u hande rus.
Internasionale bereik
Dwayne het die Open Translation Tools Convergence 2007 bygewoon wat in Zagreb, Kroasië gehou is. Hierdie was 'n geleentheid om met ontwikkelaars van verskeie Vrye en Oopbron-projek te ontmoet in die gebied van vertaling, en ook om ons gereedskap te demonstreer.
Gedurende Desember is ek na Extremadura, Spanje as voortsetting van ons betrokkenheid met die Debian-projek. Afgesien van die aanbieding van hierdie geleentheid, huisves die regering van Extremadura nou ook een van ons bedieners. 'n Groot dankie aan hulle!
Ek het ook FOSDEM 2008 in Brussel bygewoon. Hierdie besoek het ook 'n klein bymekaarkoms ingesluit van mense wat betrokke is by die Mozilla-lokalisering. Hier het ons geleentheid gehad om van ons werk en idees vir die vertaling van sulke groot projekte ten toon te stel. FOSDEM het ook die geleentheid geskep om verskeie mense te ontmoet wat geïnteresseerd is in ons werk, en ons het verskeie nuwe verhoudings kon bou om ons ter versterking van ons saak. Dank aan Mozilla wat hierdie moontlik gemaak het. Mense is dalk ook geïnteresseerd om te weet dat ons vertaalgereedskap nou ook gebruik word deur die One Laptop Per Child-projek, asook Sun Microsystems vir die vertaling van OpenOffice.org en OpenSolaris.org. Dit is vir ons 'n pluimpie om só leiding te kan neem in die internasionale lokaliseringsgemeenskap vanuit Suid-Afrika.Samuel Murray, wat al geruime tyd betrokke is in Afrikaanse lokalisering (saam met ons en ander organisasies), lei nou nog 'n Translate-projek om nuwelinge te help om op dreef te kom met lokalisering. Die projek genaamd Decathlon (Tienkamp) loop oor hierdie jaar en is 'n ideale geleentheid vir vrywilligers om betrokke te raak by lokalisering terwyl 'n kenner beskikbaar is met hulp. Meer inligting is beskikbaar by die Decathlon-projekblad.
|