Boernaliste - Afrikaanse Bloggers

Februarie 08, 2010

Boer in Ballingskap

S7300149


S7300078

Die Verbode Stad (sedert 1925 ook bekend as die Paleismuseum) is sekerlik die bekendste landmerk in Beijing waar dit net noord van Tiananmenplein (self die grootste plein in die wêreld) lê. Hierdie indrukwekkende stad (want dit is per definisie ‘n stad binne ‘n stad) was vir vyf eeue die setel vanwaar die keisers van die Ming-en Qing Dinastieë Sjina regeer het. Altesaam 24 keisers van beide die Ming- en Qing Dinastieë het in die Verbode Stad gewoon tot en met die laaste keiser, Keiser Xuantong (heers 1908-1912, beter bekend Puyi) in 1924 beveel is om die Stad te verlaat (die Qing Dinastie is reeds in 1912 deur republikeine tot ‘n val gebring, maar as toegif het hulle Xuantong vir nog 12 jaar daar laat woon).

S7300087

Die oorspronklike kompleks van geboue is tussen 1406 en 1420 opgerig deur Keiser Yongle (3de monarg van die Ming Dinastie, geheers van 1402-1424) toe die keiser besluit het om Sjina se hoofstad vanaf Nanjing na Beijing te skuif. Teen 1644 is groot dele van die Verbode Stad vernietig in die gevegte wat die Ming Dinastie tot ‘n val gebring het. Die Qing keisers het egter ‘n punt daarvan gemaak om die Stad tot sy voormalige glorie te herstel. Teen die einde van die 17de eeu is die Stad ten volle herstel onder Keiser Kangxi (3de monarg van Qing, geheers vanaf 1662-1722) en onder Keiser Qianlong (5de monarg van Qing, geheers vanaf 1735-1796) is die stad noemenswaardig uitgebrei. Sedert die einde van die 18de eeu het die Stad byna onveranderd gebly en staan steeds soos mens dit tans sien.

S7300248

Reeds sedert 1925 is die Stad nie meer verbode nie. Nadat Keiser Xuantong vrywillig verplig is om die Stad te verlaat, is dit amptelik as die Paleismuseum herdoop en as bewaringsarea oopgestel vir die publiek (voorheen mag niemand die Stad binnegegaan het sonder toestemming van die keiser nie). Bernardo Bertolucci se epiese The Last Emperor was die eerste fliek ooit wat binne die Stad verfilm is. Hoewel ek hierdie meesterstuk reeds twee keer gekyk het, gaan ek ‘n punt daarvan maak om dit weer te sien, synde dat ek nou self die plek kon besoek het waar dit verfilm is. Die fliek gaan spesifiek oor Keiser Xuantong se gebeurtenisvolle lewe en sluit die uitbeelding in van sy latere verraaiersrol rol as ‘n Japanese marionetkeiser in die verowerde provinsie van Mantsjoerye (deur Japan herdoop tot Mantsjoeoku).

DSCF9199

Vir enige besoeker is die Verbode Stad oorweldigend asemrowend en indrukwekkend. Die Stad beslaan in totaal 720 000 vierkante meter; daar is in totaal 980 geboue en ongeveer 8 700 vertrekke (die storie van 9 999 vertrekke is slegs ‘n mite). Die ringmuur om die Stad is 8m hoog en buite die muur is daar ‘n 52 meter wye mout wat gemiddeld 6 meter diep is. Amper nodeloos om te noem, is hierdie die grootste paleiskompleks in die wêreld, asook die grootste versameling historiese houtgeboue in die wêreld. Alles in ag geneem, is dit eintlik half vreemd dat die Verbode Stad eers in 1987 as ‘n Wêrelderfenis-gebied verklaar is.

S7300247

Die geel dakteëls van die geboue val dadelik op (hoewel dit op die dag van my besoek wit gekleur was deur die sneeu). Dis nie om dowe neute nie, want geel was tradisioneel die kleur van die keiser in Sjina. Die keiser se hooftroon was gesetel in die sg Saal van Opperste Harmonie (Taihe Dian), wat die grootste en mees majestueuse gebou is in die Verbode Stad. Dis ook die grootste staande houtgebou in Sjina. Hierdie gebou was tydens die Ming en Qing Dinastieë die hoogste gebou in Beijing en volgens wet mag geen ander geboue hoër gewees het nie. Hoewel dit bitter moeilik is om uitsonderings te maak, is ander geboue wat vir my imposant was oa die Pawiljoen van Aangename Klanke (Changyinge) – die grootste teater binne die verbode Stad, asook die Paleis van Hemelse Rynheid (Qianqing Gong), geleë net noord van die Paleis van Opperste Harmonie .

S7300250

Daar is so baie om te sien binne die Stad, dat dit haas onmoontlik is om die visuele ervaring in woorde te omskep. Daar is geweldig baie geboue, verskillende paleise, vermaaklikheidsareas, sale, aanbiddingsplekke, tuine, poorte, pawiljoene, hekke, binnehowe ens. met soveel verskillende name dat mens dit bloot net nie kan onthou nie. Deur die hele Stad is daar honderde en honderde meters marmer (seepglad met die sneeu) en kunstige afbeeldings van drake en fenikse, kleurryke mure en groot bronsleeus. Die tuinlandskap van klip in die Imperiale Tuin (Yuhuayuan) is veral indrukwekkend met die verskillende pawiljoene, ou sipres- en dennebome en pragtige brons wierookbranders. Wat veral opval, is die pragtige, gedetailleerde argitektuur, die reuse rooi houtdeure met brons en die geglasuurde keramiek wat orals op die mure aangebring is. Veral die sg. Nege Drake Muur het ‘n blywende indruk op my gelaat.

S7300209

Binne die stad is daar ook talle geboue wat as museums dien en waar artefakte van vervloë dae aanskou kan word. Dit sluit in geskrifte, pragtige keramiek, jade ornamente en bronsware. Die indrukwekkendste hiervan vir my was die Saal van Horlosies. Hier word pragtige kunswerke tentoongestel, wat al die unieke horlosies insluit wat die keisers van die Qing Dinastie laat invoer het van oa Engeland en Frankryk. Daar is ook pragtig gedetailleerde horlosies wat Sjinese horlosiemakers gemaak het vir die koninklike hof en dis duidelik dat die Europese styl van horlosies hulle geweldig beinvloed het.

S7300511

Sjina het geglo dat die keiser die hemelse regeerder is wat die hele wêreld regeer met die mandaat van die hemel (die tradisionele geloof in Sjina het spesifiek na die hemel verwys en nie na ‘n god of godheid nie). Gedurende 1793 het Keiser Qianlong trots aan ‘n Britse diplomaat verklaar dat die Qing se hemelse keiserryk alle state in die wêreld regeer en dat alle state hulself aan die keiser behoort te onderwerp. Die geloof in die keiser as hemelse regeerder van die aarde word goed weerspieël in hoe grandioos en majestueus die Verbode Stad in werklikheid is.

DSCF9195

Die Verbode Stad is veel, veel groter en indrukwekkend as wat ek dit my ooit voorgestel het en selfs een volle dag is amper nie genoeg om hierdie historiese kompleks na reg te in te drink nie. Dis net te groot en te oorweldigend veel. Self het ek seker maar so effe oor die helfte van die hele kompleks te siene gekry. Sommige dinge in die lewe oorrompel jou eenvoudig en vertoon die beperkinge van beide jou woordeskat en jou kognitiewe raamwerk. Die Verbode Stad is so ‘n plek.

S7300149

by boerinballingskap at Februarie 08, 2010 03:33 NM

Afrikaans in London

Dis 2010 en ek wil op vakansie gaan

Dis nou Februarie en ek dink en moet op ‘n meer gereelde basis skryf. Januarie is altyd ‘n moeilike maand. Gewoonlik het niemand geld nie want hulle word voor Kersfeers betaal, behalwe ons in die staatsdiens wat op die einde van elke maand betaal word. Ook soos ons almal ervaar het, was die weer soms [...]

by Alexander at Februarie 08, 2010 12:42 NM

Annelie Kirstein

Beloftes en bewyse

Hier volg enkele visuele bewyse van die groot belofte wat ek en Rudolph Saterdag afgelê het.
Dit dien egter ook as belofte dat daar nog vele sulke bewyse gaan volg.


by annelie.kirstein@gmail.com (annelie) at Februarie 08, 2010 04:43 VM

Februarie 07, 2010

Afrikaans in London

Spam spam spam

Kry almal anders ‘n probleem met spam? Elke dag kry ek tussen vyf en tien spam kommentaars in Russies. Wel is alles in die Cyrilliese alfabet geskryf so miskien is dit eintlik Oekraïns of Serwies. Weet iemand wat ek kan doen om spam te versper? Dis miskien ‘n jammerte dat ek nie daardie tale ken [...]

by Alexander at Februarie 07, 2010 06:11 NM

Februarie 06, 2010

Met 'n knippie sout : Pitkos vir die fynproewer

Nasionale braai dag in Australië

Dalk weet almal dit nie, maar op 26 Januarie vier Aussies mos nasionale braai dag (Australia Day). Daar is selfs winkels wat meer advertensies oor BBQ/braaiers uitsaai so 'n rukkie voor die tyd. Dit is die dag wat Aussies alles wat hulle trots maak op hul land vier. Op hierdie dag word daar ook oral oor die land burgerskap inhuldiging seremonies gehou. Die afgelope paar jaar het ons gewoonlik koers gekies na een van die strande in die omgewing en dan 'n BREKKIE langs die see gehou en die son en die see geniet. Wel, hierdie jaar het ons besluit om bietjie te gaan ondersoek instel wat hierdie land se mense in die stad aanvang. Soos 'n klein peloton het ons toe opgeruk en die trein stad toe gevat. Gestewel en gespoor met sonbrandolie, baie bottels water en "sweeties" of "lollies" (soos hulle dit hier noem)  is ons toe met die trein via die nuwe Chatswood lyn tot by Milsons Point. Ons het toe te voet deur Kirribilli gestap en van die noordekant af oor die Sydney hawebrug gestap om die tamaai veerbootresies onderdeur die brug gade te slaan.

Die stad se mense was in volle sterkte daar.  Oral het mense met TUCKERBOXES of piekniek mandjies en rugsakke op die grasperke uitgespan.  Ons het natuurlik oor die reling van die brug geleun en fotos van die spulletjie geneem. 

Die pienk kombi aan die linkerkant is natuurlik die roomyskarretjie.

 
Sommige mense het dit egter verkies om die gebeurtenis vanaf 'n boot te geniet soos hierdie boot met die Suid Afrikaanse vlag daarop.  Die brug is sowat 'n kilometer lank.  Hier onder stap ons die brug, wat vir jou soos 'n pelgrimstog kan voel om die rede dat dit so lank vat.  Ek is seker dit is 'n gesig wat baie Sydney-aners elke dag begroet - gelukkig werk ek buite die middestad, so elke besoek voel soos 'n uitstappie.
Hier onder kan julle 'n paar van die groot veerbote sien wat hierdie jaar aan die kragmeting deelgeneem het (weet nou net nie hoe regverdig die kanse was nie), want daar was Ferries van elke "shape and size".

Die Port Jackson Hawe is omskep in 'n skuim massa soos die manne dit uitgespook het vir die wenpaal - die Hawebrug.  Ek is seker daar was nie 'n beskikbare boot oor in die hele Sydney nie.
Hier is 'n kort video van die gedoente...




Kyk, ek weet ook maar nie wat ons stad sou gedoen het sonder haar geliefde Operahuis nie. Dit moet seker die mees gefotografeerde gebou in die hele Australië wees.  Moet die kunstige lyne wees. Daar is iets van die mariene natuurlewe vasgevang in die Operahuis....soos 'n paar mossels of skulpe staan dit daar...amper soos 'n Sydney "rock oyster" die smaak sensasie ervaring van vars skuimende seewater daarin vasgevang hou.
 
Die "Sydney Rock Oyster"

Hier in die voorgrond is een van die "bridge pilons" waarop die tamaai konstruksie rus.

Die vloot se helikopters was ook in volle glorie daar.

Hier is 'n pub (met 'n paar opblaas thongs/plakkies( in die bekende Sydney Rocks net langs die Sirkelkaai waar die Ferries vasmeer.


Die' toekomstige Aussie het nie op haar laat wag nie. My kinders het hierdie jaar begin met hul vierde skooljaar in Oz.  Daar is steeds 'n trotse patriotisme hier, sonder die kenmerkende politieke sametrekke wat mense verdeel, waaraan ons jare terug so aan gewoond moes raak. 
Dit was 'n snikhete dag.  Die Kurrajongs (Swart Kraaie) kon nie een slaap nie, want die aircon was gebreek.  Mense het oraloor sommer in die waterfonteine by die waterfront afgekoel. Die "ranger" het hulle toe kom waarsku dat dit "recycled" water is waarin hulle so plas...maar wie skrik nou vir 'n bietjie gebruikte water as jy warm kry.
'n Paar ander het hulself soos kangaroes gedra soos julle in die volgende video kan sien.

Hier sit ons...amper soos "DIE DENKER" en bekyk die spulletjie se manewales in die water...al die kinders was later sopnat.

 
Hier is ek en 'n vriend van my  ;-)
Daar was 'n geskarrel van mense. Net soos by baie "waterfront" areas was daar 'n koepel met kunstenaars wat opgetree het. Net om julle 'n idee te gee van die atmosfeer, hier is nog 'n kort video...



Hier is vir julle 'n mooi POSKAART FOTO wat ek vir julle van die Operahuis geneem het...hier kan enigiemand met 'n kamera sulke fotos neem.  Kliek gerus op die foto met jou muis se regterkantste knoppie, SAVE die foto en laat maak vir jou 'n poskaart by Express Foto...komaan "WISH YOU WERE HERE"

Groetnis to volgende keer.

by Rustige Swerwer (noreply@blogger.com) at Februarie 06, 2010 08:25 VM

Weer Suidkus toe

"Die man wat al die dae lekker kos kry, eet nooit lekker nie; en die man wat heeljaar vakansie hou, het geen een rusdag nie". Dit was een van die spreekwoorde van C.J Langenhoven.

'n Mens waardeer mos 'n welverdiende ruskansie wanneer jy hard gewerk het. So 'n breuk van die daaglikse roetine doen 'n mens nogal goed. Dit is altyd lekker om iets het om na uit te sien. Dit hou jou tenk vol en gee jou moed om deur te druk wanneer die stres by die werk te veel word en jou laaste vakansie doer vêr in die verskiet lê. Soms voel dit so min as mens dink jy het net 20 dae verlof in 'n jaar - dit beteken omtrent net so een week se vol vakansie en 15 langnaweke deur die jaar. Mens moet dit maar so gelykop spasieer sodat jy kort-kort 'n blaaskans kan vat.  Daar is nog so baie plekke in Australië om te verken...so min verlof.  Ek en my vrou droom al klaar daarvan hoe ons nog eendag om die "eiland" gaan toer, dalk op 'n Harley, dalk in 'n kampeer-"kombi".

Ons doen dit nou maar op die "tent-en-trailer" metode....die juppies dink mos hulle moet eers 'n 4x4 kry voordat hulle kan gaan kamp, en as hulle dan eers die ding koop moet hulle so hard werk om die paaiemente te kan byhou dat hulle nog minder kan wegbreek. Ons doen dit sommer met ons kar.  Ons het laasjaar reeds al beplan aan ons kampvakansie by Suid Durras by die suidkus (naby Batemans Baai).

Oppad na Batemans Baai het ons by ons gewone plek gestop en "Die wêreld se lekkerste pasteie" gekoop (soos ek voorheen oor geskryf het).  Daarna het ons by die uitkykpunt net voor mens deur die kronkelpad afdaal na Nowra gestop en ons pasteie gaan geiet terwyl ons die uitsig geniet.  Ek het hierdie foto daar geneem.



Hierdie keer het ons dit saam met vriende gaan doen, want hoe meer siele hoe meer vreugde. So het ons twee families reg langs mekaar "laer getrek"...



Ons het hierdie keer 'n "en-suite" badkamer bespreek.  Dan het jy jou eie toilet, wasbak en stort.  Laaskeer moes ons nog wanneer die nood druk maar in die middernagtelike ure die tent se zip aftrek en oor die gruisklippertjies met ons kaalvoete sukkel tot in die middel van die kamp by die "ablusieblokke".  Hierdie keer het ons dit in "style" gedoen. Van al die minder plesierige dinge van kamp is die ver loop tot by die toilet in die nag een van die minder lekker dinge...teen die tyd dat jy terug is by jou tent kan jy amper nie meer slaap nie.  Die eerste aand het ons die mooiste sterrehemel gesien wat ons seker nog ooit gesien het, want by Durras is bykans geen stadsliggies naby nie en als was pikdonker op die strand, met net die glimmende golwe in die voorgrond.

Markus het my gehelp met die braaiery in die aand en ons het gesorg dat ons ten minste 3 keer braaivleis hou.


As ek sê dat ek elke dag gesnorkel het oordryf ek nie, sommige dae was dit selfs twee keer.  Ek het eendag self twee kilometer gestap om te gaan snorkel op 'n plek.  Batemans Baai is ook deel van 'n "Marine Sanctuary" of Marine Heiligdom en mens kan dit duidelik sien, want visse wat rondom Sydney maar doodgewone grootte is, is in hierdie geweste baie groot.

Ek was hierdie keer baie gelukkig om twee keer af te kom op 'n rog of "ray" wat ek nog nie voorheen gesien het nie.  Die een se lyf was omtrent so 50 cm in deursnee en die een wat ek hieronder afgeneem het was so 40 cm.  Dit het, anders as 'n sand rog nie 'n pylvormige stert nie, maar dieselfde stert as 'n haai (net soos die "shovelnose ray" wat ek so 'n rukkie gelede afgeneem het.  Ek kon sowat 'n meter van die vis af kom en ons het vir 'n kort oomblik in tyd mekaar goed in die oog gehou voordat dit grasieus weggeswem het.  Markus het langs my gesnorkel toe ek die een hieronder afgeneem het.

Ek het lank gesoek om uit te vind wat dit is, maar uiteindelik bepaal wat die rog se naam is:
'n Fiddler ray / Banjo haai (Trygonorrhina fasciata)
(Hier is nog 'n foto op 'n ander website)

(Kliek op die fotos om te vergroot)
Dit was die mooiste rog wat ek tot nou toe gesien het. Ek het aanvanklik gedink dit moet 'n soort haai wees ondat die vis se ster heeltemal anders lyk as wat ek gewoond was.  Ek het een by die suidelike punt van Suid Durras gesien, en die tweede een by Gorilla Bay.  Hierdie ray is deel van die familie Rhinobatidae wat Kitaarvisse genoem word omdat dit 'n stert soos 'n haai het, maar met 'n plat lyf.




Toe ons by North Head gesnorkel het, het ek afgekom op 'n Southern Eagle Ray (Myliobatis australis).  Dit het 'n baie lang stert gehad (in teenstelling met die kort benerige stert van die ander) en het stadig verby my geswem gekom.  Hier is 'n foto van een wat iemand anders naby Wattamolla geneem het (naby waar ons ook al gaan stap het).

Ek het heelwat "Sand Rays" gesien hierdie keer, op een plek by Suid Durras het ek sommer meer as 12 getel wat onder die sand teen die rotse gelê en wegkruip het.  Hulle is baie volop in die vlak sandbanke naby die strand.

Ek het hieridie keer nog 'n ray gesien wat amper geen stert gehad het nie, maar meer gelyk het soos 'n ovaalvormige valletjies tafeldoek.  Dit is die eerste keer wat ek so iets teegekom het en het aanvanklik nie geweet wat dit is nie. Dit het deur die water beweeg deur met sy hele lyf golwende bewegings te maak.  Ek het een by Suid Durras sowel as by Gorilla Bay gesien - ek het nou net toe ek op die Internet gesoek het vir fotos gesien dit was 'n "Coffin Ray" of "Electric numbfish" (Hypnos monopterygium).  Ek het by Suid Durras dit 'n geruime tyd gelê en dophou so 5 meter onder my, dit was net so om en by 30 meter van die strand af by die rotse.  Dit het so onskadelik gelyk, maar kan mens blykbaar 'n gevaarlike elektriese skok geeHier is 'n video van een in die water.

Daar is 'n magdom visse by Guerill Bay, ek het onder andere 'n pers "Threebar Porcupine fish" (Dicotylichthys punctulatus) daar gesien. Hier is 'n foto op 'n ander webtuiste.


Een soort vis wat daar baie is, is die "Footballer" of Stripey (Microcanthus strigatus)
Hier is 'n foto wat ek van dit geneem het.




Hier is 'n foto wat ek by Guerilla Baai geneem het, dit is net suid van Batemans Bay en is 'n uitstekende plek vir snorkel omdat dit 'n baie beskutte baai het.


Ag man, daar is nog baie ander soorte visse, regte visse, hul ma en hul pa is visse, en ek het nou nie soos die toeriste in die Krugerwildtuin fotos van almal van hulle geneem soos van die rooibokke en bobejane nie.

Soos julle kan sien het ek vir my 'n boek gekoop om al die visse wat ek raakloop te kan identifiseer.  Dit is Graham J. Edgar se boek "Australian Marine Life" (Second Edition) ISBN 9781877069482.  Daar is oor die 1400 spesies plante en vissoorte in die boek.

Verder het ons lekker ge-"bodyboard" in die uitstekende branderry strand van Durras...hier is 'n agter-die-skerms video waar ek bodyboard ry...



Een oggend het ons vroeg opgestaan (soos wat ons gewoonte is) om na die sonsopkoms te kyk.


Die verskillende teksture in die sand in die volgende foto was aan die linkerkant deur die reën van die vorige aand gemaak asook die gety aan die regterkant.



Hier onder is die ligtoring by Kiama oppad na Wollongong.

 
Die vorige foto is natuurlik van die "blowhole" by Kiama geneem.

Nou ja, so het die kort vakansietjie ook op 'n einde gekom, maar dit was ten volle waardeer.

by Rustige Swerwer (noreply@blogger.com) at Februarie 06, 2010 08:20 VM

Februarie 03, 2010

Annelie Kirstein

Nog net drie slapies

...en ek kan skaars wag.

Oor drie dae trou ek met my beste vriend
die een wat my gelukkig maak
die een wat my elke dag laat lag
die een wat weet hoe om my trane af te vee
die een wat ek met my hele hart liefhet.

Ek sien uit na my droomrok
blomme en bykomstighede net soos ek dit in my gedagtes gesien het
viering saam met kosbare mense in ons lewe.

Maar meer as dit:
Ek bars van opgewondenheid om jou vrou te word en elke dag vir die res van my lewe saam met jou te spandeer.

by annelie.kirstein@gmail.com (annelie) at Februarie 03, 2010 06:31 NM

Boer in Ballingskap

S7309919


S7309915

In Korea staan die tydperk 57vC-668nC bekend as die Tydperk van die Drie Koninkryke. Gedurende hierdie tyd het drie afsonderlike koninkryke die Koreaanse Skiereiland regeer en hulle was deurgaans in oorloë met mekaar betrokke. Hierdie koninkryke was te wete Silla (57vC-935nC) in die suidooste, Baekje (18vC-660nC) in die suidweste en Goguryeo (37nC-668vC) in die noorde. Hierby kan gevoeg word die klein, maar invloedryke, Gaya Konfederasie (42-562nC) in die suide as bykomende rolspeler. Silla het uiteindelik Beakje, Goguryeo en Gaya oorwin om die Verenigde Silla Koninkryk te skep, wat die voorloper was van die geografiese staat Korea (vandag natuurlik verdeel tussen Noord en Suid).

S7309916

Ek het al verskeie kere oor Silla geskryf, aangesien ek bevoorreg genoeg is om woonagtig te wees in Silla se eeue-oue hoofstad, Gyeongju. Ek het ook al voorheen oor die Gaya Konfederasie geskryf en spesifiek oor die stadstaat Daegaya, wat gesetel was in die dorp wat vandag bekendstaan as Goryeong. Hoewel ek in my skrywes al telkemale na Goguryeo en Baekje verwys het, het ek nog nie spesifiek oor hierdie twee koninkryke geskryf nie. Goguryeo se hoofstad was Pyongyang, wat vandag steeds die hoofstad van Noord-Korea is – dus glo ek nie ek gaan sommer gou daar uitkom nie. Die ou hoofstede van Baekje, nl. Buyeo (voorheen bekend as Sabi) en Gonju (voorheen bekend as Ungjin) is egter binne bereik en ek het die twee stede onlangs gaan besoek om so bietjie in die verlede te delf.

S7309912

Baekje se hoofstad was oorspronklik Gonju , maar is in 538vC verskuif na die nabygeleë Buyeo. Een van die eerste plekke om in Gonju te besoek, is die Songsan koninklike grafte en spesifiek die graf van Koning Muryeong (25ste monarg van Baekje wat geheers het vanaf 501-523). Muryeong was ‘n vername koning wat Baekje gelei het tot kritieke oorwinnings oor die magte van Goguryeo. Muryeong se graf het met ontdekking geweldige waardevolle artefakte opgelewer en die mure van die graf is met pragtige muurskilderye versier.

S7309794S7309797

Gonju museum is hoofsaaklik gewy aan die ontdekkings wat gedoen is in die graf van Koning Muryeong. Dit sluit die oorblyfsels van die versierde kiste van hom en sy vrou in, asook sy kroon en vele ander kunswerke en besittings. Hier word ook die mitiese dier (wat vir my na ‘n klein varkie lyk) uitgestal wat in Muryeong se graf gevind is en wat as bewaker van die graf gedien het teen bose invloede.

S7309787S7309785S7309796

Langs die Geumgangrivier wat deur Gonju vloei, lê Gongsanseong Fort se muur soos ‘n halssnoer. Die muur het ‘n lengte van ongeveer 2km; is 2.5m hoog en sowat 3m dik. Die fort is gebou voor die hoofstad na Buyeo verskuif is en het die oorspronklike kern van die Gonju-nedersetting ommuur. Die mure was oorspronklik van modder gebou en is eers ten tyde van die Joseon Dinastie (1392-1910) met steen herbou.

S7309981S7309975S7309982

S7309984

Van die twee stede, het Buyeo my egter die meeste aangestaan. Jy word dadelik verwelkom deur die standbeeld van ‘n sittende Koning Seong (26ste monarg van Baekje en seun van Koning Muryeong) by een van die hoof kruisings. Koning Seong is ‘n gerespekteerde Baekje koning wat sy troepe self in veldslae gely het.

S7309842Standbeeld in BuyeoS7309842

Hy het oa Baekje grondgebied uitgebrei met suksesvolle militêre veldtogte en het Boeddhisme as amptelike geloof van Baekje gevestig. Hy het ook die skuif van hoofstad vanaf Gonju na Buyeo oorsien en ‘n sterk administratiewe netwerk gevestig. Hy het ‘n militêre alliansie met Silla gehad teen Goguryeo, maar eersgenoemde het hom verraai, deur hulle steun aan Goguryeo toe te sê. Hy is in 554 deur Silla troepe in ‘n veldslag om die lewe gebring. Sy kop is as trofee terug Gyeongju toe en sy liggaam is teruggestuur na die Baekje magte.

S7309848S7309845

Oorlogsmonument in Buyeo

‘n Entjie verder, by ‘n volgende kruising, staan die standbeeld van die berede Generaal Gyebaek. Gyebaek het ‘n sentrale rol gespeel in die onsuksesvolle verdediging van Buyeo teen Silla magte gedurende 660. Die veldslag van Hwangsanbeol het hom ook in direkte konfrontasie gebring met die legendariese Silla generaal, Kim Yu Sin. Dit was ‘n geweldige veldslag met Gyebaek wat ‘n oormag van 1 tot 10 moes teenstaan. Op die ou-end is Gyebaek se magte verslaan, maar nie voordat hulle uitstekende rekenskap van hulself gegee het nie. Hulle dapper verdediging van Buyeo teen ‘n oorweldigende oormag word gedenk deur ‘n indrukwekkende monument in Seodong Park , opgerig vir Gyebaek en die 5000 troepe wat gesterf het tydens die veldslag van Hwangsanbeol . Hierdie veldslag het ook die einde van die Baekje Koninkryk ingelui.

S7309888S7309882S7309889

S7309986

S7309888S7309885S7309889

Neffens Seodong Park, vind mens die koninklike meer en pawiljoen, genaamd Gungnamji. Die meer en pawiljoen is in 634 deur Koning Mu (30ste monarg van Baekje) geskep as rekreasie-area. Gungnamji word erken as die eerste kunsmatige meer wat ooit in Korea gebou is. Gedurende die somer is die area om die meer oortrek van pragtige lotusblomme, maar in die winter is daar slegs die droë stingels en kelke in die bevrore water.

S7309938S7309935

Die koninklike grafte van Neungsan-ri neem dieselfde vorm aan van die in Gyeongju , maar is oor die algemeen aansienlik kleiner. ‘n Ander verskil is dat baie van hierdie grafte ‘n igloe-tipe steen-ingang het. Dit is egter vir bewaringsdoeleindes gesluit vir besoekers.

S7309930

Geen besoek aan so ‘n historiese plek is natuurlik volledig indien die museum nie besoek word nie. Buyeo Museum is kleiner as Gonju Museum, maar steeds baie interessant en pynlik netjies en goed uiteengesit, soos mens al gewoond geraak het van museums in Korea. Van die indrukwekkendste artefakte op uitstalling is die pragtige vergulde brons wierookbrander, wat intense detail bevat. Hierdie is dan ook die simbool van Baekje se kuns wat tydens die sg Sabi Periode tot volle bloei gevorder het.

S7309919S7309922S7309919

Om Baekje te beleef is voorwaar ‘n voorreg…maar meer nog: om ‘n land te beleef met so ‘n ryke geskiedenis wat so goed bewaar word, is ‘n besonderse voorreg (ditto tov Sjina en Japan).

by boerinballingskap at Februarie 03, 2010 02:12 NM